Contact Us
22 November 2021
Stemme van Clarkson 2021

Wat maak ‘n dorpie ‘n dorpie? Dis nie die geboue wat daar staan gemaak is nie. Dis nie die attraksies wat die dorp jou bied nie. Nee, dis die spore wat die mense wat daar gebore en getoë is, getrap het, wat die dorp maak.

En dis presies daardie mense en die verhale wat uit hul stemme kom, wat in die boek Stemme Van Clarkson, geskryf deur professor Vivienne Lawack, vertel word.

Clarkson, ‘n voormalige Morawiese sendingstasie in die Oos-Kaap sowat 40 km van Humansdorp, en die geskiedenis daarvan soos vertel deur verskeie inwoners, oud en jonk, is die hooffokus van die boek.

Reeds vroeg word daar met verskeie temas kennis gemaak met twee wat duidelik uitstaan en strykdeur sentraal is: Die kerk (en die ontstaan daarvan) en die skool en hoe die twee instansies sentraal tot die vooruitgang van die dorpie is.

Dis mos maar een ding van “klein” dorpies op die platteland. Die kerk speel altyd ‘n uiters belangrike rol daarin én veral wat Morawiese sendingstasies betref.

Stemme van Clarkson vat jou op ‘n reis deur die dorp al langs Kerk- en Baziastraat af met die eerste twee hooftukke waar die historiese deel uiteengesit word deur Dr. Eldrid Uithaler. As jy nie van die Oos-Kaapse wêreld naby Clarkson is nie, sal die akroniem van die dorpie se naam dalk as ‘n verrassing vir mense kom.

Maar vir die mense van die dorp, bly dié akroniem tot vandag toe nog ‘n rigtingwyser: Christus Lankmoedig Almagtige, Regverdige Koning, Seën Ons Nederiges, CLARKSON.

Hoeveel dorpe of stede is daar in Suid-Afrika wat met so ‘n akroniem van hul naam kan spog. Dit wys egter ook die alle belangrike rol wat die kerk in die lewens van Clarksonners reeds van die begin af speel.

Dan natuurlik is daar verhale oor die skool, Clarkson Primêr, onder meer van Meester Johnny (soos Jonathan Lawack bekend gestaan het) en Juffrou “Torie” (Victoria Lawack). Die skooltjie wat vir baie inwoners die ander instelling op die dorp is.

Waar onderwysers en hoofde soos meester Johnny, John Raymond en Walton Wolfkop menige Clarksonner se skoolloopbane help bou het en rigtingwysers vir die kinders was. En selfs toe twee veldbrande die skool en skoolsaal gedeeltelik verwoes het, het dit nie die gemeenskap in sak en as gehad nie, soos dr. Uithaler vertel.

Nee, Clarksonners se hande is nie rond nie en albei kere is die geboue saam met die kerkgebou tot in ere herstel om hul diens te doen. Clarkson Morawiese Primêr het baie kinders op hul pad gestuur die wêreld in. Daar het onderwysers, verpleegsters, wetstoepassers en regsgeleerdes onder meer uit dié kleine dorpie gekom.

Nog ‘n hoofstuk wat mense aan die lag sal kry, is die een wat Clarkson se mense en hul byname bevat. Wat is ‘n dorpie ook dan sonder sy mense met byname? In Stemme Van Clarkson is daar van die vreemdste byname soos dit maar ‘n plattelandse dorpie betaam.

“Ou Oorlog”, “Ou Trippies”, “Ou Kriek”, “Ou Perd”, “Ou Tai Koepie”, “Oom Madam”, “Ou Ghoempie”, “Pietman Waterkop”, “Ou Fly” en “Hansie Boksak” is maar van die snaakse byname wat aan mense op Clarkson gegee is en nog pal op die dorp gehoor of oorvertel word.

Natuurlik is dié byname eie aan die dorp en verskeie van hulle het volgens die skrywer ‘n konnotasie tot die voorkoms van die persoon of iets wat hulle altyd gesê het.

Die Stemme van Clarkson vertel egter nie net stories van nostalgie en heimwee nie. Die dorpie gaan nou meer as ooit gebuk onder armoede en werkloosheid. Sosiale euwels soos drankmisbruik is ‘n groot kwelpunt en soos dit al hoe meer sigbaar geword het, het die eenheid wat daar eens op Clarkson was, ook begin verdwyn.

Dit vertel biskop Rodger Ruiters in sy verhaal.

Ook hy is gebore en getoë in Clarkson. Hy ken Cklarkson se verlede en die hede. En met die hede is dit tans ‘n moeilike uitsig. Veral met die werkloosheid en morele verval van die dorp.

Terwyl die biskop Clarkson onthou as ‘n plek waar oud en jonk in die verlede goeie samesyn by die kerkbasaar, skoolkonserte, Kinderfeeste en selfs langs die rugbyvel gehad het, kan hy nou buite sy huis staan en drie shebeens alleenlik in Bazia-straat tel.

En, die rugby en ander kulturele of sosiale geleenthede het heeltemal doodgeloop. Waar die dorp Saterdae sou stilstaan vir ‘n rugbystryd van hul geliefde span. Nou, in die woorde van die biskop, is dit “uit die werk kom en drink, Saterdag drinkdag, Sondag die beste drinkdag en dan Maandag weer werk toe”.

Selfs die kerk, wat vroeër jare die middelpunt van Clarkson was, sukkel om sy kerkbanke vol te kry. Natuurlik, soos die biskop dit beskryf, speel ander denominasies op die dorp ‘n groot rol in hoeveel mense nou by die kerk betrokke is, maar hy vra ook die vraag waar alles vir hulle verkeerd gegaan het.

Met die skryf van die boek word daar egter ook ‘n pleidooi gerig aan Clarksonners – om op te staan en hulself te help en nie vir die regering of iemand anders moet wag nie.

Stemme Van Clarkson is geskryf deur Prof. Vivienne Lawack met bydraes deur Velma Wentzel en wyle Havidt Wentzel dr. Eldrid Uithaler, Jonathan Lawack, wyle juffrou Victoria “Torie” Lawack, wyle eerwaarde Gedeon Cloete, suster Jenny Wolfkop, Antonio Lawack en biskop Rodger Ruiters. Hierdie rubriek het in Rapport verskyn op 21 November 2021.