1. Swart Afrikaanse skryfwerk (Black Afrikaans writing)
Hierdie navorsing is ’n voortsetting van die simposia wat in 1985, 1995, 2005 en 2015 gehou is. By elkeen van hierdie geleenthede is bestek opgeneem van die stand en ontwikkeling van die korpus swart Afrikaanse skryfwerk en die tematiese, talige en strukturele verskeidenheid daarvan. Daar was telkens intense debatvoering oor die konsep en die geldigheid daarvan in veranderende kontekste, die verhouding met die Afrikaanse literatuursisteem o.a. uitgewers, resensente en literatore. Die verrigtinge is gepubliseer in ‘n aantal publikasies o.a. Swart Afrikaanse skrywers, Die reis na Patarnoster en ’n Vlag aan die tong.Die fokus is verder uitgebrei om die kollig op spesifieke skrywers en streeksliterature te laat val. In 2010 was dit S.V. Petersen, in 2011 Adam Small en in 2017 is in samewerking met die Afrikaans-departement aan die Sol Plaatje Universiteit ‘n byeenkoms oor Afrikaans in die Noord-Kaap gehou. Die kongresbydraes is gepubliseer in Tydskrif vir Letterkunde en Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans.
Die simposia wil ’n herbesoek bring aan hierdie skrywers en streeksverskynsels met die volgende oogmerke: die opdieping van ongepubliseerde tekste, argivale en historiese bronne, ’n herwaardering deur nuwe teoretiese invalshoeke, groter bewusmaking onder die breër leserspubliek en uitgebreide aandag in die literatuurgeskiedenisse.
Hierdie navorsing is ingeskakel by die South Literatures projek van Prof Duncan Brown wat deur die Mellon Stigting befonds word. ’n Aantal nagraadse studente is besig met studies op hierdie terrein. Besoek die Research Repository van die UWK biblioteek om die tesissse van Courtneigh Ess, Tenita Kidelo en Teneal Apollis af te laai.
(The three symposia focusing on the writing of black writers, writing in Afrikaans, led to a heightened production country wide of research on the kind of Afrikaans used, the themes, archival sources, as well as the relationship of these texts with and within the Afrikaans canon and literary criticism. This work has established the department internationally as a crucial knowledge production node and research centre on Black Afrikaans Writing. The research is integrated in the South African Literatures project, a Mellon Funded initiative led by Prof Duncan Brown).
2. Afrikaanse variëteite (Afrikaans varieties)
Die departement glo dat Afrikaans as taal slegs kan gedy as al haar variëteite gelyke status het. Daarom fokus ons navorsing toenemend op al hoe meer variëteite met die oog op ’n meer inklusiewe beskrywing van die Afrikaanse taal. Die aanbied van die simposium “Kaaps in fokus” in 2014 was dus ‘n belangrike inisiatief om die aandag te vestig op hierdie taalvorm en die beskrywing daarvan ’n verdere hupstoot te gee. Die verrigtinge van hierdie geleentheid is vasgelê in die publikasie Kaaps in Fokus wat in 2016 verskyn het en in 2018 as Kaaps in Focus in die tydskrif Multilingual Margins. Vanuit die standpunt dat die meeste sprekers van Afrikaans uit die bruin gemeenskap kom en hulle in plattelandse gebiede bevind waar streektaalvorme besonder lewend is, word die aandag ook toegespits op die studie van Noord-Kaapse variëteite en ander omgangs- of gesproke taalvorme.van Afrikaans.’n Geskiedkundige tweedaagse konferensie oor Afrikaans in die Noord-Kaap, begin November 2017 by die nuwe Sol Plaatje-Universiteit (SPU) in Kimberley, was ’n belangrike impetus. Dosente van ons departement, in samewerking met Sol Plaatje se Skool vir Geesteswetenskappe, spesifiek hulle Departement Afrikaans en Nederlands, het hier lig gewerp op die kwessie van Oranjerivierafrikaans – ’n oorkoepelende term vir die Afrikaanse variëteite (soos byvoorbeeld Namakwalandse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans) wat in die Noord-Kaap gepraat word. Prof. Frank Hendricks se belangrike bydrae tot navorsing oor Afrikaanse taalvariëteite is in die vorm van ’n boek, Taalkundige essays – ’n gerf uit die vroegskemer, by die konferensie bekendgestel. Bydraes tot die konferensie is verwerk tot artikels wat in 2019 in die geakkrediteerde tydskrif TNA opgeneem is.
Sedert 2018 is die departement ’n leidende deelgenoot aan ’n grootskaalse projek saam met die departement Afrikaans aan Unisa, gemik op die optekening van Afrikaans soos sy gepraat word oor die dwarste en breedte van Suid-Afrika. Die doel is om ’n databasis op te bou van so veel moontlik spreektaalvorme wat as bron kan dien vir verdere diepgaande navorsing oor Afrikaanse taalvariasie in diens van ’n meer inklusiewe beskrywing van Afrikaans.
The next step in broadening the focus on the variations in Afrikaans is the department’s participation in an international project on multilingualism in collaboration with Prof. Bassey Antia (UWC).