’N KORT GESKIEDENIS VAN DIE DEPARTEMENT AFRIKAANS EN NEDERLANDS
Die Departement Afrikaans en Nederlands is een van die stigtersdepartemente van die Universiteit van Wes-Kaapland toe dit in 1959 opgerig is in ‘n skoolgebou in Bellville-Suid en later gevestig is op die huidige kampus in Robert Sobukwe/Modderdamweg. Onder die eerste professore tel professore FA Odendal, GJ van der Walt en Dries Sinclair. In die sestigerjare was GJ Gerwel, I. Van der Rheede en T.H. Links studente en het later nagraads gestudeer en professors in die departement geword.
Gerwel was die eerste een om ’n doktorsgraad aan die Vrije Universiteit Brussel te verwerf en sou later die dekaan en rektor van die instelling word. Sy doktorale studie Literatuur en Apartheid: konsepsies van gekleurdes in die Afrikaanse literatuur sou die grondslag lê vir ideologie-kritiese studies waarvoor die departement in die Afrikaanse literatuurkritiek bekend geword het. Tony Links se studie oor Namakwalandse Afrikaans, gepubliseer as So praat ons Namakwalanders sou eweneens die taalvariëteitspesialisasie van die departement inlei, so ook Ikey van der Rheede se studie oor die taalgebruik van vissersgemeenskappe in die Houtbaai-omgewing. Die doktorale studies van Julian Smith (Swart Afrikaanse gemeenskapstoneel), Hein Willemse (Aan die ander kant: Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde), Steward van Wyk (Adam Small: Apartheid en skrywerskap), Frank Hendricks (Prolepsis in Afrikaans) en Christa van Louw (Taalbeplanning vir veeltaligheid) en verskeie MA verhandelinge vloei voort uit hierdie denkraamwerke. Hierdie navorsing word teenswoordig voortgesit en vind neerslag in twee nisareas, naamlik Swart Afrikaanse skryfwerk en Variasietaalkunde.
In die middel van die 1980’s het ‘n volwaardige departement Nederlands onder leiding van prof. Wium van Zyl tot stand gekom, die eerste en enigste in die land. Hierdie departement is later weer geïnkorporeer by Afrikaans maar sou in sy kort bestaan Nederlands as hoofvak aanbied en ’n groot inspuiting gee in die Neerlandistiek, nie net aan universiteite nie maar ook op skool waar dit vir lank ‘n verpligte onderdeel van die matrieksillabus was. Dit is welbekend dat prof. Gerwel op ‘n stadium gespog het dat UWK die grootste Afrikaansdepartement in die wêreld het! Alhoewel studentegetalle oor die jare gewissel het, is daar steeds ‘n aansienlike aantal studente ingeskryf en tel hierdie departement steeds onder die grootstes in Suid-Afrika.
